Dag 6 – Geliefde deur God
Geliefd deur God
Liefde is een van die belangrikste indien nie die mees belangrikste behoefde van enige mens. Ons almal wil weet dat ons geliefd is, dat ons êrens behoort en veilig kan wees binne ware liefde. Ons almal wil onsself wees en weet dat iemand my liefhet tenspyte van my foute, my gewoontes, my sienings, ens.
Die een ding wat ons van seker kan wees in die lewe as kinders van God is dat God ons liefhet. Dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie. In Romeine 8: 37-39 staan daar dat niks waaraan ons ooit kan dink, niks wat ons bang of onseker maak, niks wat ons bedreig, selfs nie eers die dood kan ons skei van God se liefde nie. Die liefde wat daar is in Jesus Christus.
Jesus se liefde is nie net iets wat hy vir ons kom sê nie, Hy het dit vir ons kom wys deur aan die kruis te sterf vir ons Sondes. Hy het vir ons kom wys, al verdien ons nie vryheid nie, is ons steeds die moeite werd om voor te sterf, want Sy liefde vir ons is oneindig groot. Dis liefde wat nie weggaan in moeilike tye nie. Dis liefde waarin ons kan vashou ten spyte van ons omstandighede. Dis liefde waarin ons kan weet ons is veilig by God al kry ons swaar. Dit gee vrede nie omdat alles perfek is nie, maar omdat ons gevestig is in God se liefde wat nie kan weggaan nie.
Wat maak ek dan met hierdie liefde? Hierdie liefde kan nie net vir myself gehou word nie. Wanneer ‘n mens geliefd is, kan ‘n mens ook hierdie liefde uitdeel. Ons as kinders van die Here kan hierdie liefde sigbaar maak in hierdie wêreld waarin ons leef.
Miskien kan ons nie fisies aan mekaar raak nie, nie fisies in mekaar se teenwoordigheid wees nie, maar daar is baie ander maniere waarop ons hierdie liefde kan uitleef in die tyd waarin ons leef. Dink bietjie daar waar jy is, hoe kan ek God se liefde vir my, uitleef na ander?
In 1 Johannes 4: 12 staan daar: Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het Sy liefde in ons sy doel volkom bereik.
Wanneer ons mekaar liefhet word God se liefde sigbaar in hierdie wêreld.
Elana Dreyer – NG Brackendal