Skip to main content

Dag 31 – Ek hou vas aan wat die Here vir my gedoen het


Het jy al die gevoel gehad van magteloosheid, moedeloosheid, ontreddering, weerloos, vrees, blootgestel? Jy sit dalk vandag in die ervaring van die COVID-19 en die grendelstaat met daardie gevoel. Waar gaan alles heen? Wat gaan van ons word? Hoe klink die gemiddelde gesprek in my huis of as ek oor die foon met vriende en familie gesels?
Om sommer net ‘n paar oomblikke vanuit ons eie geskiedenis te noem wat ook hierdie gevoel op ons harte en die mense voor ons se lewens gelaat het:
Anglo-Boere Oorlog 1899-1902
Die Spaanse Griep
Die groot Depressie 1930’s
Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog
Opstande oor verkeie plekke in Suid-Afrika 1960’s tot in die 1980’s
Hier is maar om net ‘n paar te noem

Kom lees saam met my…
Jeremia 29:4-7
Ballingskap. Wat presies is dit? Ons hoor heel dikwels hierdie woord wanneer ons met die Ou Testament besig is. Ballingskap is die verwysing na die Babiloniers van die Babiloniese Ryk wat Jerusalem verwoes het en die volk in ballingskap weggeneem het. Dit is die gebeurtenis en simbool van onderdrukking van God se volk. Totale vernedering van die volk. Alles wat vir hulle belangrik was is van hulle gestroop.
Ons bevind onsself vandag in die jaar 598vC. Al die hooggeplaastes sowel as die nuwe koning word weggevoer in ballingskap. Valse profete kondig aan dat dit alles net van korte duur sal wees dan keer alles weer terug soos ons dit ken. Gaan die lewe weer lyk soos ons dit geken het? Jeremia voel baie sterk hieroor dat dit nie die geval is nie en skryf ‘n brief aan die ballinge om hierdie vals hoop in die kiem te smoor.
Julle moet huise bou, daarin woon, julle moet tuine uitlê en daarin plant, julle moet trou en kinders hê. Vestig vir julleself ‘n gemeenskap van opbou, want die ballingskap gaan lank duur. 70jaar om presies te wees. Tweedens moet julle bid vir die voorspoed en die seen van die stad. Waarom op aarde sou hulle dit moet doen? Babel se voorspoed sal ook julle voorspoed wees.


Dan hier by vers 11 – doen net dit en wees daarvan oortuig en weet dit seker dat die Here vir julle goeie beloftes inhou. Voorspoed, ‘n toekoms, ‘n verwagting. Die seen van God se kinders is vir Hom belangrik.
Vreemdelinge? Die volk van God is hier op ‘n plek waar hulle as die vreemdelinge beskou word. Begin ons nie dak in ons eie omstandighede met die COVID-19 pandemie en die grendelstaat nie ook soos vreemdelinge voel nie? Dit wat vir hulle belangrik was is van hulle af weggeneem. Voel dit nie dalk soms so dat jy die vreemdeling is nie? Gestroop van dit wat vir jou belangrik is. Die voorreg om vry rond te kan beweeg, by familie en vriende te kan kuier. In die winkels rond te loop. Om kerk toe te kan gaan. Dink bietjie hieroor: Wat is vir jou belangrik gewees en waarom is dit vir jou belangrik gewees?
Veranderinge. Verandering is seker naas die dood die ding in die lewe waarvan ons almal kan seker wees. As ons na ons eie omstandighede kyk en hoe dit in ‘n oogwink verander. Vandag is die wêreld soos ons haar ken nog vry en die volgende oomblik moet ons soek na ‘n nuwe normal. ‘n Normaal van beperkings, in ons huise bly, maskers, BAIE hande was en sosiale afstand hou.


Die gevoel van ontreddering kry my beet deur dit wat aan die gebeur is in die wêreld, die land, in my huisgesin, in my eie lewe. Wat gaan ons maak?
Babilon, wat moet ons daar maak? Bou en bid. Shalom, die volheid van God se seen. Die Shalom van Babilon. Die shalom van my en jou lewe as gelowiges. Waaroor gaan dit? Werk aan jou eie verhouding met God. Ons het nou die tyd daarvoor. Ons as gelowiges het die voorreg om in hierdie tyd te kan stil word en ons kan werk aan ons verhouding met God en om te fokus op waarmee is ons besig en hoekom? Daar gaan weer tyd kom vir nuut begin. Sien jy kans? Die bevryding uit hierdie ballingskap lê in die BOU en BID in die midde van ons omstandighede – om geestelik ook te verdiep. Dit lê in die volharding van die hoop, selfs in die donker tye.


Gaan jy ‘n punt daarvan maak om anders hieroor te dink? Wat gaan jy anders doen?
“Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.” – Psalm 13

Ds. Deon Louw, NG Kerk Alberton-Wes