Dag 30 – Soms is kla beter as loof
Mens kan nie net altyd die Here loof nie. Soms is mens net te seer, te rou, te kwaad, te skuldig, te in twyfel, te omvou in die donker wolke van pyn en verlies om die Here te loof. Dan het jy nie ‘n voorsanger-lofleier nodig wat vir jou sê jy moet ‘n smile op jou gesig sit nie. Dis ook dan wat jy eerder iewers wegkruip van mense met hulle lastige maklike antwoorde en goedbedoelde rate wat baie keer soos messteke net jou pyn vererger. Soms skrik jy selfs vir jou eie Godslasterlike gedagtes wat jy om die dood toe nie kan wegkry nie sodat jy vol skuld God se teenwoordigheid probeer ontvlug soos Dawid in Psalm 139:7, “waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? “
Dan is dit soos ‘n ligstraal in die donker van mens se siel as jy weet dat die Here ook ruimte gemaak het vir jou met daardie gevoelens en dat Hy glad nie van jou verwag om Hom teen wil en dank te loof nie. Inteendeel, Hy het ook juis vir ons hierdie reaksies gegee sodat ons onsself gesond kan kla en treur en Hom weer by ons in ons hooploosheid kan vind. Hoor ons nie Jesus langs ons roep: “ My God, My God, waarom het U My verlaat?”
Hierdie gebed van die Here aan die kruis kom woordeliks uit Psalm 22, ‘n klaaglied. Ongeveer twee derdes van alle Psalms is deel van ‘n groepering Psalms wat bekend staan as klaagliedere. Een hele boek in die Bybel, Klaagliedere van Jeremia, is niks anders as ‘n lang klaaglied oor Israel se groot verlies nie. In hierdie liedere en gebede vind ons ons intensste emosies van stryd en angs opgeneem in God se woord en daarmee in sy hart.
Nooi die Here nie hiermee vir ons in sulke tye van stres en nood om ons klaagliedere by Hom te sing nie? En as ons dan woorde en selfinsig in ons eie gevoelens soek, vind ons dit hier. En terwyl mens dan in hoop teen hoop na God soek, “soos ‘n wildsbok smag na waterstrome” (Ps.42:2), en jou klagtes en wanhoop na Hom neem begin jy onthou wie God is en wat Hy in die verlede gedoen het. So mag dit ons, soos in Psalm 42, neem na God met ons wat nog altyd dieselfde is en na nuwe hoop.
4 Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”
5 As ek my lewe voor my laat verbygaan, dink ek daaraan
hoe ek opgetrek het na die woonplek van God,
voor ‘n skare uit na sy huis toe geloop het
met gejuig en lofsang – ‘n skare wat feesvier.
6 Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing.
Hy is my helper en my God! (Psalm 42)
Piet Botha- Brackendal