Dag 24 – Kies om te lewe dis n ingesteldheid
Dit is altyd lekker om te lees wat die Here op aarde gedoen het en vir mense gesê het. Die besef het stadig in my gegroei dat Hy altyd positief was wanneer Hy met mense besig was. Net teenoor die kerkleiers was Hy baie krities.
En toe lees ek Johannes 5 -Op die Sabbatdag… het Hy ‘n negatiewe opmerking teenoor ‘n jongman gemaak. Die man by die Bad van Betesda. Hy het vir daardie geneesde man gesê: ”Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” Verbasend!
Die lam man van Betesda se lewe is vir my ‘n kontras teenoor Johannes 9 se man wat blind gebore is. Die blinde het, na hy kon sien Jesus so verdedig; hy het verskil van sy ouers en selfs opgestaan teen die kerkleiers wat Jesus wou afkraak. Jesus het sulke mooi dinge oor hom gesê, soos dat Hy (Jesus) juis aarde toe gekom het sodat mense soos hy(blinde) kon sien.
Ai en die Lam man kla oor niemand hom in die bad wil ingooi nie (alles en almal skuld hom iets). Hy kry sy bene terug, maar dan nog leef hy asof hy die “benadeelde” is en verkla hy vir Jesus by die kerkleiers. Ek sien ‘n groot verskil tussen die twee geneesdes, in hul gees en hul dankbaarheid: Die een kies om Jesus te aanbid, die ander kies om Hom te verkla.
Elkeen kan kies wat sy/haar ingesteldheid vandag gaan wees. Dat jy kan leef, kan glo, kan gesond wees, is so groot geskenk. Gebruik dan die lewe wat jy het om nie sonde te doen nie, maar om eerder met dankbaarheid God te aanbid en verkondig en groot te maak.
Kom ons kies om te lewe! Kies om te aanbid.
Phillip Coetzee – Brackenhurst Gemeente