Dag 23 – Wondersoete slaap
DF Malherbe roep in sy bekende gedig: Wat is die slaap ‘n wondersoete ding!
Slaap is genadetyd en Godtyd.
Psalm 127:2: Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.
God het ons gemaak om te rus, dit is selfs in die skepping ingebou en in die skeppingsverhaal lees ons dat God die 7de dag gerus het en dit ook vir ons as Sabbat ingestel en geheilig het. Sabbat beteken om op te hou en te rus.
God doen soveel met ons in ons slaap: Hy vernuwe ons telkens na liggaam, siel en gees. Hoe dikwels ervaar ons nie soggens hoe ‘n nuwe dag ons blink en vars begroet nie. Die varsheid van die oggend het nie net met die oggend te doen nie maar ook met ons vernuwende kyk en uitsig op die wêreld om ons.
Slaap is natuurlik ook ‘n werkwoord, dis iets wat jy gaan doen. Maar dis ‘n soort paradoksale werkwoord, eintlik moet jy ophou om te doen en gaan rus. So stem dit ooreen met geloof. Geloof is om iets te doen maar om te glo moet jy eintlik ophou om op jouself en jou werke en prestasies te vertrou en jy stel jou vertroue in God. Daarom sê Psalm 127 ook in vers 1:
As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
Slaap is daarom ook oorgeetyd en ‘n daad van vertroue. Jy gaan lê jou as’t ware in vertroue in die arms van God, jou Hemelse Vader. Malherbe het in sy gedig sy kind so sien aan die slaap raak: “Ek merk hoe langsaam hy genaak wat drome soet tot werklikhede maak …. in vaderarms rus my lieweling”. Dan sy wens aan die end van sy gedig: “sluit so my oë, God, as ek gaan rus.
Maar wat as die rus my ontwyk? As spanning en angs my laat rondrol en ek doodeenvoudig nie kan slaap nie of reeds te vroeg wakker lê.
Ook dit kan Godtyd wees. Psalm 16:6-9 sê: “selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
8 Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig”
Wakkertyd is oefentyd in vertroue in die Here, word rustig in Hom en gee al jou bekommernise aan Hom. Dit is ook belydenistyd, haal rustig asem en bely jou skuld, sonde en laste met elke uitasem en dank God vir sy verhoring met elke inasem. Dit is ook dank en loftyd, laat jou gedagtes gaan na al die goeie wat God jou gegee het en dank en loof Hom daarvoor. Dis ook voorbiddingstyd waar jy vir almal en alles rondom jou kan bid. Bid die Onse Vader en bekende dele soos Psalm 23. Word dan net stil in die teenwoordigheid van God.
Slaap of wakker, dit bly genadetyd
Piet Botha – Brackendal