Dag 22 – Waar is God?
Die vraag waar is God in hierdie tyd, is op almal se lippe. Party beweer dat God COVID 19 oor ons gebring het, om een of ander les te leer. Ander sê weer ons is soos Job deur die duiwel versoek en ons met net vas staan in die geloof.
Maar kom ons staan net vir ‘n oomblik stil by God. Kom ons gaan raak stil en fokus op die beloftes wat God regtig vir ons gee. Nêrens in die Bybel praat dit spesifiek van COVID 19 nie, maar in die tyd wat die Bybel geskryf is, was daar ook ‘n “groot griep” of twee wat die mense baie siek gemaak het, en baie om die lewe gebring het. Hierdie is nie die wêreld se eerste pandemie nie.
So hoewel ons dalk mag voel asof ons gestraf word, of beproef word is daar ‘n paar beloftes waaraan ons kan vashou. Heb 13:5 sê vir ons “Ek sal jou nooit alleen los nie en Ek sal jou nooit in die steek laat nie”; Jes 43:1 “Ek het jou op die naam geroep, jy is myne”; Joh 14:27 “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie”. En dit is maar net om ‘n paar te noem.
In werklikheid maak dit nie saak of hierdie virus in ‘n vismark of laboratorium begin is nie, wat saak maak is dat ons nou, saam, in isolasie leef. Dat almal van ons dieselfde emosies ervaar en dat ons almal al moeg is vir ons huise. En wanneer ons so voel en ons Bybels oopslaan vir raad, moet ons nie allerhande snaakse afleidings maak nie. Hou net vas aan God se beloftes, Hy sien jou raak en Hy is oneindigend lief vir jou. Jy is Sy gunsteling mens en Hy sal jou nie in die steek laat nie.
Lorinda Schoonwinkel – South Crest Gemeente