Skip to main content

 Dag 18 – Ek kies om dankbaar te wees vir my lewe.


Ek het die gedeelte die eerste keer geskryf verlede jaar toe die wêreld om ons nog redelik voorspelbaar was. Ek het dit so bietjie aangepas want dinge lyk nou ander, maar alles in alles bly die volgende ‘n feit: Maak nie saak wat jy dink nie, jou lewe is ‘n geskenk!


Soveel mense mis hierdie belangrike punt. Ja, ek weet alles is nie altyd maanskyn en rose nie en veral nou is dinge glad nie maklik nie en baie onseker maar glo my, die lewe bly ‘n wonderlike geskenk. Dit beteken ook dat hierdie lewe van jou vir God belangrik is.


Vir te lank was Christene se fokus op die ewige lewe eendag. Hierdie lewe was beskou as boos en lelik en ons moes almal hieruit gered word. Jy moes jou hart vir die Here gee sodat jy kan seker wees jy gaan hemel toe. Onthou jy nog daai predikers wat jou uit die hel uit gepreek het? Ja vir baie lank was dit ons fokus. Al wat belangrik was, was dat jy jou siel gered word. Asof God nie behae in jou vleeslike lewe het nie. Nou hoekom het hy dan hierdie vleeslike lewe gemaak?


Ek is die laaste ruk al hoe meer bewus daarvan dat Jesus ons eintlik leer dat die ewige lewe nie iets is wat net eendag gebeur nie, die ewige lewe begin nou alreeds. Jesus sê die Koninkryk van God het aangebreek! Dis wonderlike nuus. Dit beteken ons mag maar hierdie lewe geniet en voluit leef.


Die lewe is ‘n avontuur. Dit is opwindend. Ons vergeet dit baie keer. Ons raak so verstrengel in ons alledaagse gejaag na betekenis dat ons soms dit wat belangrik is mis. Ons mis dit om net te lewe. Efesiërs 5 sê ons moet die beste gebruik maak van elke geleentheid. As ek die teks lees dan hoor ek altyd die Latynse slagspreuk, Carpe Diem, wat beteken gryp die dag of in Engels, “seize the day”. Eintlik sê Paulus dit beter in Efesiërs 5 want dit is oomblikke wat baie keer die lewe die moeitewerd maak, is dit nie? Daai geleenthede wat wag dat ons dit aangryp. Die klein dingetjies in die lewe maak die lewe baie keer die moeitewerd maar dit is ook die klein dingetjies wat ons so maklik mis. Mens kan die dag aangryp maar die oomblik mis.


Miskien is dit een van die lesse wat hierdie krisis ons leer. Ja ons kan nie alles doen wat ons sou wou nie en daar is baie dinge wat ons bekommerd maak maar vir die eerste keer in ‘n lang tyd kry ons die kans om juis die klein dingetjies in die lewe te doen en om die oomblikke aan te gryp. Soos om tyd met ons geliefdes te deel, ons kinders te help met huiswerk, ‘n boek te lees, iets te bak of brou en sommer net ‘n klein bietjie stadiger te lewe. Die ironie is dat, nou dat die kerke se deure toe is en hulle dienste aanlyn moes skuif, baie gesinne vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer saam aanbid.


Hoe sal jou lewe anders lyk as jy elke dag, ook hierna, die beste maak van elke oomblik. As jy elke oomblik aangryp om vir die mense om jou, geliefdes of vreemdelinge, die gesig van Jesus te wys? Hoe sal jou lewe anders lyk as jy dit sou beskou as ‘n avontuur met moontlikehede en geleenthede om elke hoek en draai?
Ek is vandag net weer opnuut opgewonde en dankbaar oor die geskenk van die lewe.

Ghisnene Müller – Verwoerdpark Gemeente