Skip to main content

Dag 16 – Op reis na hoop


Met die herdenking van Goeie Vrydag het die gedagte by my opgekom, dat die omstanders by die kruis, hetsy die soldaat met sy belydenis, die vroue wat gestaan en huil het of enige ander toeskouers .… nie vir altyd daar bly staan het nie. Die kruis was ‘n kernmoment in elkeen van hul se lewe daarna, maar op daardie oomblik moes hulle omdraai en teruggaan na hul ou lewens toe. Dieselfde gedagtegang kry ons in die verhaal van die Emmausgangers (Luk 24:13-35) – mense wat heel verslae wegstap van die Goeie Vrydag gebeure.


Hulle het nie dieselfde weggestap nie. Hulle was nie meer dieselfde mense as vantevore nie. Hulle was nie meer Donderdag mense nie. Maar Goeie-Vrydag mense. En op daardie oomblik, was hulle wêrelde werklik uitmekaar geskeur. Want op daardie Vrydag was Jesus werklik dood. Hulle sou nie soos ons moderne lesers die storie vooruit kon lees en weet dat daar ‘n Sondagmôre met ‘n leë graf sou wees nie. Hulle was regtig verslae. Hulle het nie meer geweet hoe om na die toekoms te kyk nie.


Voel jy nie in die midde van die Covid-19 situasie ook verslae, teleurgesteld en moedeloos nie. Ons ken van die Goeie-Vrydag gevoel.


Maar een ding wat óns vandag weet, is dat die kruis-pad gee hoop.
Want ons is Sondag mense. Ons vier die opstanding.


Eventueel sou daardie verslae, moedelose, en hooplose omstanders by die kruis ook hoop kry. Sou hulle hoop kry wanneer Jesus aan hulle verskyn, of wanneer Hy saam met hulle stap en hulle harte warm word. Om Jesus in Sy opstandingsgestalte te beleef gee hoop!
Hoop en optimisme is nie sinoniem nie.


Al die verskriklike dinge is die “geboortepyne” van iets nuut en wonderliks wat sal aanbreek: “Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit” (Markus 13:26). Ons is nie op pad na die “einde” nie, maar na God se begin. Ons is oppad na nog ‘n “Sondagmôre” wat die angel uit die dood haal. Intussen moet gelowiges nie “verskrik” wees nie, sê Markus (13:7), MAAR tot die einde volhard (13:13) en waaksaam bly (13:37).


Die uitnodiging vir ons, is nie om nóg pessimisties nóg optimisties te kan leef nie, maar eerder om hoopvol te leef.
Na die kruis is daar ‘n opstanding.

Ds Natalia Strydom