Skip to main content

Dag 13 – Teenwoordig


Ons is halfpad deur lockdown. Teen hierdie tyd het meeste van ons ‘n redelike ritme aan ons dag. Sommiges pak reg en maak skoon. Ander “homeschool” weer. Party oefen en het doelwitte wat hulle vir hulself gestel het en werk elke dag daartoe om dit te bereik. Maar dit vat elke dag net ‘n gedeelte van jou dag op, so wat doen jy met die res van jou dag…?
Die grappies oor vet word van teveel verveelde etery is eindeloos. Die aktiwiteit op Facebook en ander sosiale media het drasties toegeneem. So ons probeer die tussenin tyd vul met iets anders. Ons probeer die gevoel van verveeldheid vul met ongesonde “snakking” en ons lê behoorlik voor die TV. In die perfekte wêreld sou dit beskryf kon word as Hemels. Maar is dit regtig?


Sheila Cussons skryf in haar gedig Eucharistie “Maar die kos was op tyd in die potte, en deur die haastige take, skil, afwas, opruim, die stoom en tafeldek, toe ʼn druppel sweet langs my slaap koel op my hand val, het ek sommer gaan staan, en gekyk en gekyk daarna: omdat U nooit net “daar” is nie maar in die “hier” van elke handeling bewus van U; selfs –by dreigende pot en vinnige vadoek –so, blink-onmiddellik op my vel.


More is dit amptelik die begin van Paasnaweek. Vir baie van ons het ons Lydenstyd vas by die deur uitgevlieg, maar in werklikheid vas ons soveel meer hierdie jaar. Ons vas vryheid, ons vas roetine, ons vas saamwees. So vandag wil ek julle uitdaag om more alle fone weg te sit. Minder voor die TV te lê en teenwoordig te raak. Gaan sit in die tuin en luister na die voëls, kyk watter insekte is daar te sien, hou hulle bietjie dop. Beleef die skoonheid van God se skepping terwyl jy net daar is. Daar waar jy voor die kos potte staan, daar waar jy huisskoonmaak. Beleef God. Just be in the moment.


En terwyl jy so sit. En luister, en ruik en voel. Dink aan die woorde van Efe 5:6Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. 8Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. 9Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. 10Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, 11en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.


Los die dinge wat so ongesond is en jou aandag steel en wees net teenwoordig, in die oomblik, saam met God, vir een dag…

Lorinda Schoonwinkel – South Crest Gemeente