Skip to main content

Dag 11 – Ek kies blydskap


Ek kies blydskap
Filippense 4: 4-9

4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. 8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. 9 En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Ons leef in ongekende tye. Mense is gespanne, angstig en onseker. Om die kersie op die koek te sit, is die meeste van ons in ons huise vasgekluister en dit opsigself kan mens nogal die mure uitdryf. Ek kan nie vir jou sê hoeveel keer ek al die laaste ruk die woorde “Ek is bored” gehoor het nie.

Ek sien ‘n meme of Facebook wat sê dat vir die eerste keer in die geskiedenis kan jy die wêreld red deur op jou rusbank te bly en TV te kyk! Wraggies, dit is die tye waarin ons nou leef. Ek dink egter die ergste van hierdie situasie is dat mens half voel jy is nie meer in beheer nie. Jy kan niks doen nie! Miskien is jy een van daai mense wat nie weet of jy gaan werk hê as die grendeltyd verby is nie. Miskien is jy bekommerd oor jou besigheid. Dalk lê jy in die aande wakker van bekommernis oor jou kinders of jou ouers. Om nie in beheer te wees nie is glad nie ‘n lekker gevoel nie. Die een ding waaroor ons egter altyd beheer het is die manier wat ons na die wêreld om ons kyk.

As ‘n jong meisie het die teks vir my nooit sin gemaak nie. Hoe is mens altyd bly? Hoe is mens in alle situasie bly? Hoe is ek bly as ek bang is? Hoe is ek bly as ek ‘n krisis moet trotseer? Hoe is ek bly as dinge skeefloop? Hoe is ek bly as ek nie seker is hoe my toekoms lyk nie? Weet Paulus waarvan hy praat? Jip, hy weet presies waarvan hy praat. Sien, Paulus is in die tronk, waarskynlik in Efese, wanneer hy hierdie brief aan die gemeente in Filippe skryf. Hy weet presies hoe dit voel om in ‘n situasie te wees waarin hy geen beheer het nie!

Wat Paulus meesterlik regkry is om ‘n baie belangrike Christelike beginsel uit te leef. Hy kies blydskap en Paulus kan blydskap kies omdat in die Christelike verstaan, blydskap nie net te doen het met jou omstandighede nie en alles te doen het met die feit dat God naby is. God is by ons en dit verander alles! Blydskap is dus ‘n keuse. Dit is iets wat ek kan doen want die Here Jesus is by ons. Ons Here Jesus is nie meer in die graf vasgekluister nie, nee Hy leef en Hy is hier by ons.

Paulus moedig hier mense aan om, ongeag hoe die omstandighede om hulle lyk, steeds Jesus met blydskap te vier. Hy gee hulle ook ‘n baie duidelik raamwerk waarin hulle dit moet doen. Deur eengesind te wees. Deur mekaar se belange op die hart te dra. Deur mekaar te ondersteun.

Christelike blydskap is nooit individuele blydskap nie. dit is gemeenskaplike blydskap. Hierdie blydskap is dan nie net iets wat my lewe verander nie maar ook die mense rondom my sin. Dit is hoekom ons hierdie blydskap so broodnodig het nou. Die wêreld het Christene nodig wat elke dag blydskap kies. Wat kies om die mooi raak te sien. Wat kies om positief te wees. Wat kies om God in elke oomblik raak te sien.

Mag die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan oor elkeen van julle wees.

Ghisnene Müller – Verwoerdpark Gemeente