Ons Kerk
Ons glo God bou self sy kerk en bou ook aan ons!
Geskiedenis van die Kerk
Alberton-Suid het in 1966 afgestig van Alberton-Wes. Vanjaar vier ons 50 jaar van bestaan! Wat ’n voorreg en genade van God! ’n Gemeente wat so vêr kom gaan deur verskeie oorgangstye. In 1993 begin ons met kleingroepe. Vanaf 1999 het ons met vernuwing begin met die klem op lidmaatbemagtiging. Vanaf 2005 begin ons ’n reis van gestuurdheid. Die gemeente het aanvanklik klein begin met een leraar maar tans is daar drie. Nou is ons ’n gemeente wat wil anders leef as die familie van Christus. Die groot klem is op die vorming van volgelinge van Christus wat hulle geloof uitleef in die gemeenskap van Alberton. Ons glo God bou self sy kerk en bou ook aan ons!
Ons verwelkom ‘n nuwe Pastorale leraar.
Die Kerkraad het besluit om vanaf 1 Januarie 2019, vir ‘n tydperk van 3 maande vir Ds Johan Heyns as pastorale leraar aan te stel. Ds Johan sal verantwoordelik wees vir die volgende aspekte van die bediening in die gemeente:
- Hospitaal- en siekebesoeke na behoefte,
- Sterftebegeleiding,
- Senior-bediening waaronder berading van bejaardes, preekbeurte by die Tuiste vir Bejaardes en mini-kerk by Silwerkroon,
- Bywoning van Senior selgroep byeenkomste soos nodig,
- Beradingsdienste asook ander bedieningsdienste aan gemeentelede.
Ds Johan is nie totaal onbekend aan Alberton-Suid nie. Hy was vanaf 1993 tot Mei 2018 die Leraar by Klipriviersberg gemeente in die suide van Johannesburg. U as gemeente weet dat Alberton-Suid al vir baie jare ‘n pad stap met die Klipriviersberg gemeente en dat daar nog steeds gehelp word, selfs na die ontbinding van daardie gemeente. In Desember het ons gemeentelede weereens kospakkies gaan uitdeel onder die gemeenskap en ons help ook maandeliks met sowat 20 sakke kruideniersware (Pak ‘n sak projek).
Ds Heyns is in 1989 gelegitimeer as predikant nadat sy studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi is. Benewens die opleiding as predikant is hy ook gekwalifiseer as trauma berader, mediator, die opstel van ouerskap planne, beradingsentrumbestuur, mentorskap en die afneem van persoonlikheidsanalises. Hy is ook as spesialis berader geregistreer by die Suid Afrikaanse Assosiasie van Pastorale Beraders en tree op as supervisor vir jong beraders.
Ds Johan en sy vrou, Adèle is reeds 30 jaar getroud en woon reeds meer as 14 jaar in Alberton. Hulle het twee volwasse kinders, Maryke (wat getroud is met Gerhard) en hul seun Adriaan. Hulle het ook twee hondekinders en geniet dit om as gesin saam te kuier, of wanneer wegbreek moontlik is om na die berge, die wildtuin of die kus uit te wyk. Ds Johan is lief vir fotografie en lees, as die tyd dit toelaat.
Baie welkom aan die Heyns gesin. Ons weet dat die Here ook hier in Alberton-Suid met julle ‘n pad wil stap en vir julle wil gebruik in Sy koninkryk.