Geloofsvorming van Kinders
Soos kinders vorder van doeke tot diplomas is daar een allesoorheersende saak waarvoor elke Christen-ouer te staan kom, naamlik die geestelike groei van ons kinders. In Spreuke 22: 6 lees ons: “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy oud is nie daarvan afwyk nie”.
Jy dink dalk nou: Wat dan van die kerk? Is ons kinders se geestelike onderrig dan nie die kerk se verantwoordelikheid nie?. Dis mos darem waarvoor leraars opgelei word, nie waar nie?
Dis wel waar dat leraars God se Woord doeltreffend verkondig en gevolglik lig bring in baie lewens, maar hulle sal die eerste wees om vir jou te sê dat die geestelike onderrig van kinders nog nooit bedoel was om beperk te word tot ‘n enkele uur op ‘n Sondag nie.
Saam met kerkbywoning is geestelike onderrig ook bedoel om elke dag voor kinders uitgeleef te word deur hulle ouers en grootouers wat hulle liefhet.
Dink vir ‘n oomblik hoe die bywoningsyfers van ons kerke sou wees as elke persoon wat in die kerk grootgeword het, volgende Sondag kerk toe sou kom. Die bestaande kerkgeboue sal nie eers naastenby almal kan huisves nie.
In Deuteronomium 6 lees ons hoe ons veronderstel is om ons liefde vir God elke dag in die huis aan ons kinders oor te dra: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is, en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan” (Vers 5-7).
Ons as gemeente wil aan u bevestig, dat ons saam met u “Ja” geantwoord het op die dag met u kind se doopbelofte. Ons as gemeente wil saam verantwoordlikheid neem vir hul geestelike opvoeding, hul geloofsgroei, hul dissipelskap en hul reis met God.
Maar daarvoor moet hulle hier wees om die “Goeie nuus” te kan hoor, om onderlinge gemeenskap te beleef, om sorg te gee en sorg te ontvang en saam hul mylpale in die lewe te vier.
“Going to church doesn’t make you a Christian, any more than going to Mc Donalds makes you a hamburger” sal sommige sê. Ons stem saam. Dit is nie die leë kerkgebou wat ons vorm in die lewe nie, maar die boodskap wat ons in hierdie heilige ruimte hoor.
Dit is een van die ruimtes waar God gekies het om ons bymekaar te versamel om Sy Woord te kan hoor en om toegerus te word. Die erediens byeenkoms is ook die ruimte waar ons kan antwoord op God se liefde, deur uit dankbaarheid saam te sing en Hom te loof in gebed.
Daarom, al is jou kinders woelig, al voel dit of jy nie veel van die boodskap inneem, of selfs dalk van die preek hou nie, is jy besig om ‘n gesonde geloofsgewoonte te vestig. Kinders gaan jou voorbeeld dophou, en daarom wil ons jou as ouer en as grootouer eerstens aanmoedig om kerkbywoning ‘n prioriteit te maak. Die kinders leer deur u voorbeeld.
Tweedens wil ons u aanmoedig om u doopbelofte te onthou en uself vir hierdie jaar weer toe te wy. Ons is vennote in u kind/ers se geloofreis, maar u as ouer bly die persoon wat primêre verantwoordelikheid neem vir hul geloofsgroei. As gemeente wil ons alles in ons vermoë doen om u toe te rus, u te ondersteun en saam te reis. Die huisgesin is die eerste ruimte waarin God Homself openbaar. Daar waar julle in die kar ry, waar julle rondom die etenstafel sit, of selfs voor die televisie sit… daar is God teenwoordig.
Daarom wil ons u aanmoedig om elke denkbare geleentheid aan te gryp om oor God met u kind/ers te gesels.
In die volgende paar weke sal ons weekliks ‘n artikel in die blaadjie plaas oor die geloofsgroei van kinders. Ons moedig u aan om saam te reis.
Ons hou dan ook hierdie jaar in Julie ‘n Gesinskonferensie waar ons sprekers en kundiges gaan nooi om te praat oor die vele eienskappe van ouerskap – onder andere sal ek ‘n sessie aanbied oor die verskillende Geloofsfases van kinders.
Kom reis saam. Hê saam pret. Leer oor God op verskillende maniere- gedurende die Erediens en die gesinsoomblik, moedig u kinders aan om Loftjokkers, Lofland of Icon op Sondae by te woon en al die vele sosiale geleenthede en uitreikgeleenthede. Kom hê saam pret by die dieretuin, reis saam deur Paasfees en ons Kinder-Paasfees reeks.
Vrede
Ds Natalia Strydom