Skip to main content

Dag 9 – Ons het regtig God se liefde nodig…


Johannes 3:1-17 en Romeine 8:31 tot 39

Eers wil ek jou nooi om stil te raak en ‘n kers aan te steek. Raak bewus van die oomblik…
Dink so bietjie aan een van die eerste teksverse in die Bybel wat jy as kind geleer is om uit jou kop te kan ken. Dink in hoeveel geleenthede in jou lewe het hierdie teksverse jou gedra, bemoedig en gemotiveer. Veral in swaar en moeilike tye. Behalwe Psalm 23, is die een teksvers wat ek uit my kop geleer ken het as klein seuntjie Johannes 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Lees saam met my…
Johannes 3:1-17
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

1. Lees hierdie teksgedeelte weer, maar met jou eie naam daarby ingevul:

“God het____________so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat ek wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Maandagaand, 23 Maart 2020 toe President Cyril Ramaphosa die aankondiging maak dat Suid-Afrika in 21 dae lange algehele afsondering gaan, het baie van ons die voor- en nadele hiervan in ons binnekamers gaan opweeg. Wat gaan ons deur hierdie tyd dra? Wat gaan die wêreld deur hierdie tyd dra? Wat gaan my familie en vriende deur hierdie tyd dra? Wat gaan ons kerk hierdeur dra? Wat gaan my gesin hierdeur dra? Wat gaan my hierdeur dra?

Die liefde van God. Die blote gedagte van die prys wat betaal is. Jesus wat vir ons gesterf het en die dood oorwin het. Oorweldig hierdie gedagte jou ook?. Dit laat jou ook klein voel ne? Mag hierdie gedagte ‘n werklikheid word wat ons dra.

Lees verder saam met my oor die liefde wat God vir ons het…
Romeine 8:31 tot 39

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? In vers 35 word daar sewe moontlike dinge genoem wat skeiding kan veroorsaak tussen ons en Christus, maar dit is net hoegenaamd nie moontlik nie. Die waarheid is dat ons in al hierdie dinge meer as oorwinnaars is. Hoekom? Omdat God ons liefhet. Mag hierdie wete ook vandag en in die tyd wat voorlê vir julle as familie en die wêreld en die kerk troos.

Niks sal ons kan skei van die greep van God se liefde oor ons nie. Ons is Christus s’n. Ons behoort aan Hom. Self in hierdie tyd wat jy dalk eensaamheid of bekommernis en selfs furstrasie mag beleef, weet dat ons nooit van Christus losgemaak word nie. Dit is die troos vir ons as gelowiges. God se genade sal bo alles vir ons genoeg wees.

Ons het regtig God se liefde nodig…Hy weet dit! Weet ons dit? Mag ons hiermee bemoedig word. Getroos word. Mag ons oortuig wees van die wete dat daar niks is wat ons van die liefde van Christus kan skei nie, en dat ons aan God behoort.
Ds. Deon Louw


NG Kerk Alberton-Wes