Dag 29 – Soos in die hemel…
Hierdie is nou week 4 van grendeltyd. En dit voel kompleet of die Grendel te styf geslot is. Pyn en swaarkry glip uit soos n drukkoker wat net nie alles kan binnehou nie! Huwelike haak uit, gesin-spanning is te hoog, kort van draad maak dat uitvliete gebeur. En dan klop daar dinge aan ons deur, eksterne druk soos die vermindering van inkomste, werkloosheid en so voorts.
Ek merk in Openbaring dat die sewe briewe aan gemeentes vertel van swaarkry – gelowiges kry swaar – tog is dit nie die saak wat die Here aanspreek nie. Hy bied baie troos, hulp en teenwoordigheid aan. Maar is bekommerd oor ons geestelike welstand. Lees elke brief: “Ek het dit teen julle dat… “ en dan handel dit oor hul geestelike diepte en groei.
Ons geestelike gesondheid is primêr; swaarkry kan ons hanteer. Let op hoe die Here ons leer bid het:…“Laat U wil geskied hier by ons op die aarde soos wat U wil geskied in die hemel!” Ons geestelike welstand moet wees soos in die hemel.
Wat gebeur in die hemel? Waar moet ons fokus wees? – Openbaring 4 vertel van “soos in die hemel”: God sit op Sy troon (totale HEERskappy) Die stene en kristal vertel van Sy grootheid … en die reënboog lei ons gedagtes na die verbond met Noag; dat God beloof het Hy sal ons nie uitwis nie.
Let op wat vertel Openb 4 van die Kerk; dit is ek en jy nou en almal wat glo van alle tye en plekke (OT en NT) hulle is in n sirkel rondom Sy Troon – ewe vêr van God af (ewe belangrik, met God die belangrikste) almal in wit geklee (vry en rein) met krone. En die Heilige Gees in die vorm van sewe lampe … Die hele skepping is daar: wilde diere, mak diere, mens en voëls en hulle roep uit dat God die belangrikste is: En ons (Kerk) reageer op hierdie oproep met n lied wat al die eer net aan God gee.
Dink so wyd as wat jy kan- toer deur die hele Nuwe Testament – besef jy die christene het altyd swaar gekry, maar hulle het nooit gekla nie, hoekom nie? Want … hulle het God op Sy Troon sien sit… Lees die hele Openbaring, Romeine 8, dink aan Paulus-hulle in die tronk, besig om lofliedere te sing. Die kerk het nooit gekla nie, net vir God aanbid, want hulle het God gesien.
Dit is wat ons, wat swaarkry, dra: Met geloofsoë sien ons God in die hemel, op Sy Troon. Terwyl ons bid “Laat U wil geskied soos in die hemel netso op ons aarde” Daar is ons troos en ons ware Noord. CS Lewis, n beleefde teoloog het gesê: “Mense wat die hemel gesien het, maak hierdie wêreld anders.” Sterkte vir die vyfde week.