Dag 25 – Die Opstanding van Jesus Christus bied vir ons hoop en nie besittings nie

Jy is seker, soos baie ander mense op ‘n plek waar jy dalk erg moedeloos is. Jy is dalk op ‘n plek waar die angstigheid in jou gemoed baie hoog is in vergelyking met voor die algehele afsondering. Jou lewe is teen hierdie tyd al op verskeie maniere direk geraak deur die impak van COVID-19. Ekonomies, geestelik, fisies en iemand na aan jou of jy is dalk gediagnoseer. Jy is nagte wakker omtrent hoe ons weer die stukke van impak hierdie gebeurtenis gaan optel. Moedeloos. Wel, daar is dalk iemand se verhaal wat jou kan bemoedig en inspireer.
Lees saam met my…
Lukas 24:13-35
Die twee Emmausgangers is oppad terug huistoe. Daar is groot skok, hartseer en teleurstelling – ‘n moedeloosheid in hulle harte. Dit is baie duidelik dat hulle volgelinge van Jesus was en saam met Hom geleef het. Nou is Hy dood. Dit is nie al nie. Nou is dit so dat Jesus se liggaam nie meer in die graf is nie. Die hoop wat hulle gehad het is finaal weg.
Daar is die verwagting van Jesus se volgelinge gewees dat Hy die Messias gaan wees. Hy is die een wat Israel gaan verlos. God het ‘n ander plan gehad met Sy verlossingsplan. Die doel voor oë is gewees om mense met Hom te versoen. Daarom het niks van die gebeure die afgelope tyd in Jerusalem vir hulle sin gemaak nie.
Dit is baie interessant dat iemand wat saam met Jesus geleef het, Hom nie herken wanneer hulle Hom op die pad ontmoet nie. Die passiewe vorm word hier gebruik – wat daarop neerkom dat die Emmausgangers die onvermoë het om te sien wie saam met hulle loop. Jesus noem dit dat hulle ‘n gebrek aan begrip het oor wie Hy is, en oor wat werklik in Jerusalem gebeur het. Sien julle dit nie raak nie. Dit alles waarvan daar vertel word deur die eeue heen het tot vervulling gekom.
Hierdie reis waarop hierdie twee mense is, is nie iets buitengewoons nie. Dan is daar hierdie vreemdeling wat saam met hulle kom stap. Hy vra nie om by hulle oor te bly vir die aand nie. Hy maak of Hy verbygaan.
Hulle nooi dan hierdie vreemdeling om by hulle oor te bly. Dan gebeur die vreemdste ding. Hierdie vreemdeling tree op as die gasheer en nie die gas nie. Is daar dalk ‘n verbintenis tussen die laaste paasmaaltyd. Daarom herken hulle Hom?
Jesus word die gasheer in die huis van die Emmausgangers en hulle die gaste? Jesus sit saam met hulle en eet. Toe Hy die brood breek besef hulle wie Hy is. Stephan Joubert skryf dat dit hier is waar die grootste teleurstelling in die grootste geleentheid verander het. Mag jou teleurstelling, moedeloosheid, bekommernis en hartseer in ‘n geleentheid verander wanneer Jesus weer die gasheer in jou lewe word. Jy het dalk self siek geword en ook so baie verloor, maar daar is hoop!!
Dit is hier waar die verhaal ‘n keurpunt bereik en die Emmausgangers besef, dit is die opgestane Here wat by hulle aan huis is. Hy het regtig opgestaan. Daar hardloop hulle in die donker al die pad terug na Jerusalem om die ander te gaan vertel dat Jesus werklik opgestaan het.
Wat leef in jou hart? Het die opgestane Here Jesus in jou lewe bekend geword?“ Wees stil en ondersoek in verwondering wanneer jou hart ook warm geword het. Mag daar vir jou hoop daarin wees. Hoop om vorentoe te gaan. Hoop om op te staan, hoop om te lewe. Ek sluit af met ‘n aanhaling van een van my oud-dosente
“Die verhale van die opgestane Christus vertel en getuig van hoop…Hoop ja, maar nooit besittings nie.” – Julian Muller
Wat is dit wat sal gebeur in jou lewe wanneer jy toelaat dat die opgestane Here optree as gasheer in jou lewe? Hoeveel anderste gaan jou lewe lyk? Hoeveel hoop leef daar in jou hart? Hoop op Hom en nie besittings nie?
Ds Deon Louw, NG Kerk Alberton-Wes