Skip to main content

Dag 21 – Verkeerd wees kan ‘n gawe wees.


1 Johannes 1:8-10
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Een van die vereistes om na binne te reis, m.a.w om jouself beter te leer ken en om emosioneel en geestelik te groei, is om bereid te wees om te erken dat jy ook verkeerd kan wees.


Nou hoor ek jou sê: “Ja natuurlik! Almal maak foute!” maar dis nie so maklik nie want ons almal hou te veel van reg wees, is dit nie? Ek moet herken, om verkeerd te wees is vir my niks lekker nie! Ek sal soms baie dinge doen om dit te vermy maar wat sal jy daarvan dink as ek vir jou sou sê dat om verkeerd te wees ‘n gawe is. En om te kan erken jy is verkeerd kan jou lewe verander. Luister my uit.


Op ‘n redelike jong ouderdom, wanneer ons begin selfbewus word, fokus ons almeer daarop om nie foute te maak nie. Ons fokus daarop om nie iets te doen of te sê wat kan maak dat mense vir ons lag nie. Ons leer van ‘n vroeë ouderdom af dat om verkeerd te wees nie goeie gevolge het nie.


Miskien het jy dit geleer toe jy op skool ‘n vraag hardop geantwoord het en die hele klas vir jou gelag het omdat jy die verkeerde antwoord gegee het. Wat was die gevolg daarvan? Waarskynlik dat jy al hoe minder jou hand in die klas opgesteek het en dat jy al hoe minder kanse begin vat het. Dit is presies wat die vrees vir verkeerd wees doen, dit inhibeer ons. Dit weerhou ons daarvan om onsself te wees en dit ontneem ons van geleenthede.


Dit tel ook vir baie van jou standpunte. Indien jy nie bereid is om verkeerd te wees nie kan jy nie groei nie. Hierdie vrees vir verkeerd wees kondisioneer ons om altyd reg te wil wees. Kyk maar in ons verhoudings. Ons is alewig besig om die vinger na mekaar te wys. Dit moet die ander ou wees wat verkeerd is want die seer van om te erken dat ek verkeerd is, is net te groot.


Sien ons nie hierdie blaamskuiwery nou in hierdie krisis onder wêreldleiers nie? Niemand wil verantwoordelikheid vat nie en elkeen het ‘n vinger wat na ‘n ander rolspeler wys. Dit maak net alles deurmekaar en ondeursigtig en eintlik help dit niemand nie.


Ek en jy, of landleiers as jy wil, kan nie iets regmaak of verander as ons nie erken dat ons verkeerd is nie. As daar een ding is wat baie duidelik geword het in die laaste paar weke, is dit dat dit wat ons as “normaal” ken, nie noodwendig die beste is nie. Daar is baie dinge wat moet verander as ons ‘n gesonde samelewing wil wees. Ons sal moet aandag gee aan die enorme ongelykheid wat bestaan in ons samelewings, so ook aan die armoede wat die grootste deel van ons mooi land in sy vieslike kloue het. Wat van ons obsessie met rykdom en sukses? Dalk die dinge waaraan ons al ons tyd bestee en die verwagtinge wat ons het van ons geliefdes?


Hoe het hierdie inperking jou verstaan wat belangrik is verander? Hoe gaan jou lewe lyk hierna? Jou grootste kans op verandering in jou lewe is eerstens wanneer jy jou vrees vir verkeerd wees in jou agtersak druk en ‘n kans vat om jou hand op te steek. En tweedens wanneer jy bereid is om jou eie foute raak te sien en te erken dat jy verkeerd is sodat jy dit kan regmaak.


Ja glo dit of nie, om verkeerd te wees kan dalk net jou lewe verander. Mag jy die moed hê om die waarheid te omarm.

Ghisnene Müller – Verwoerdpark Gemeente.