Dag 20 – Are we there yet?
Hoe moedeloos raak jy as jy daaraan dink dat Lockdown sou more klaar gemaak het, maar nou? Nou moet ons NOG twee weke uithou. En as jy nou vir een oomblik dink dat “hey, ek is deur 21 dae, wat is nog 14?” wil ek jou net herinner dat die moeilikste deel voorlê. Die irritasie vlakke is teen hierdie tyd so 150%, die eensaamheid en verlange trek al op 200% en dan praat ons nie van die gevoel wat jy kry as jy dink jy moet alweer gaan skottelgoed was of kosmaak nie. En dan is daar nog twee weke hiervan oor.
Dalk droom jy oor wat jy alles gaan doen as jy nie meer gevangene in jou eie huis is nie, dalk gaan jy jou beste vriende nooi vir ‘n braai, dalk gaan die kinders vir ‘n naweek na ouma toe, dalk gaan jy sommer met vakansie. Dit maak nou nie saak nie, die idee is dat elkeen van ons al gedink het dat dit wat wag na alles verby is, soveel beter gaan smaak.
Maar dink aan al die voordele wat so ‘n lang tyd van afsondering vir jou kan hê?
1. Jy is waarskynlik nader aan die mense in jou huis, as voor Lockdown
2. Jy gaan beslis die geselskap van mense wat nie saam met jou bly nie, baie meer waardeer
3. Jy gaan onderwysers, bediendes, dokters, winkel werkers en die kerk soveel meer waardeer.
4. Die heel belangrikste, jy gaan ‘n ander verhouding hê met God. Dalk is dit dieper, dalk is dit net anders
Heb 12 gee vir ons weer die moed om hierdie “home stretch” aan te pak: Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.
So voordat jy mismoedig raak oor nog twee weke, haal asem, maak vir jou ‘n koppie tee/koffie en onthou: Hou Jesus dop, want die eind streep is amper daar.
Lorinda Schoonwinkel – South Crest Gemeente