Dag 12 – Die monster onder die bed
Die monster onder die bed
In 2001 het Pixar Animation die suksesvolle Monsters Inc vrygestel – een van die grootste film treffers van daardie jaar. Die storie van monsters wat kinders moet bang maak, hulle gille opvang om sodoende energie vir hulle wêreld bymekaar te maak. Hierdie monsters het deur ‘n geheime deur die kinders se kamers binnegekom en vanuit die hangkas, onder die bed of agter meubels uitgekom om die kinders te terroriseer en vrees aan te jaag.
Vandag leef so baie van ons in vrees – nie veroorsaak deur harige monsters onder die bed nie – maar naby ons gebring deur ‘n virus wat wêreld wyd amok maak. Elke dag kyk ons met angs na getalle wat toeneem, voel ons hoe hierdie monster nader en nader aan ons kruip en ons staan magteloos, vreesbevange vir ons geliefdes, onsself, ons gemeentelede.
Professor Talita Greyling (Universiteit van Johannesburg) en doktor Stephanie Rossouw (Auckland University of Technology) het in 2019 die “South Africa’s Happiness Index” bekendgestel en onlangs hulle studie uitgebrei om die impak van emosies van ons mense in te sluit. Te midde van die Covid-19 pandemie het hulle die gevolgtrekkings gemaak: Ons het ‘n 180° ommekeer gemaak – van ‘n land vol blydskap , waar ons goeie verwagtinge gehad het, waar ons vertroue teenoor mekaar gewys het, na mense vol woede, wat die ergste verwag en wat vol misnoeë en vrees is. In hul studie het die belewenis van woede met 10% en die van misnoeë met 8% gestyg. Terwyl gevoelens van vertroue met 13% en die van vreugde met 6% gedaal het.
Dit lyk asof ons toegelaat het dat die monsters van woede en misnoeë onder ons beddens kom intrek het. Ons is kwaad: Kwaad teenoor die polisie en weermag wat in ons buurte ontplooi is, vir die vlakke van geweld en aggressie; Ons is kwaad omdat mense inhalig is en geld uit die situasie wil maak terwyl ons land ly; Ons is kwaad vir die regering wat volgens sommige te slap en volgens ander te streng is; Ons is kwaad oor Moody’s wat ons land afgegradeer het, praat van ‘n hond skop wat lê; Ons is kwaad oor die isolasie en omdat almal nie groot genoeg erns daarmee maak nie en dit verhoog ons stresvlakke en lei tot depressie; Ons is kwaad oor die toename in gesinsgeweld en die onenigheid binne gesinne wat saam ingeperk is; Ons is kwaad oor leë winkel rakke omdat die “rykes” alles wil koop; Ons is kwaad vir God want iets van dit voel soos Sy toorn wat oor ons losbreek het.
Kom ons vra God om vandag daardie spinnekop webbe van woede, misnoeë onder die bed uit te vee en in die plak daarvan ons te vul met sy Woord in Efesiërs 5:16ev:
15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.
18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.
Mag ons genadige Vader en ons liefdevolle Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees Heer aan ons innerlike vrede en hemelse blydskap gee!
Johan Heyns – Alberton Suid