Dag 7 – God is nie in lockdown nie.
Ons het byna ‘n week in lock-down agter die rug. In hierdie week het my eie gedagtes baie gewissel oor hoe oud sekere ervarings eintlik is. Ons dink lock-down is ‘n nuwe ding. Maar in die Bybel lees van ons ‘n paar gevalle. Ek dink sommer vlugtig aan Noag se ark, waar Noag 40 dae in lock-down was en ek dink veral aan die Babiloniese ballingskap wat bietjie minder as 50 jaar geduur het (alhoewel daar van ‘n simboliese 70 jaar gepraat word). Dit blyk my mense was al vorige kere ook gekonfronteer met lock-down.
Vreemd genoeg wanneer mense in lock-down is, het mens ook te doen met die ervaring van ontnugtering. Dat God nie meer daar is nie. Dat Hy gevlug het. Dat God in lock-down is. Ons kan nie meer na ons kerkgeboue en samekomste gaan soos gewoonlik nie. Tog weet ons as gelowiges dat God nie beperk is tot ‘n kerkgebou nie. God is nie in lock-down nie. Hy beweeg vrylik. Van die begin van tyd af maar veral ook na die uitstorting van die Heilige Gees. God se Gees is in hierdie tye een van die “essential services” vir gelowiges om deur hierdie ervaring te kom.
Ons lees die verhaal van Noag se lewe in Genesis 5-9. Alhoewel Noag gekla het oor die isolasie wat die vloed sou bring, die ongerief van sy normale lewe wat nie voort kan gaan nie, het Noag sekerlik ook iets van sy vryheid prysgegee. Ons kla oor ons vryheid geinhibeer is om nie te mag werk toe gaan, winkelsentrums toe gaan en sportbyeenkomste hou nie. Maar kan jy jouself indink dat Noag nie eers gou Spar toe kon ry vir die nodige brood en melk nie! Ons kla oor ons ingeperk is saam met ons man of vrou en ons kinders. Ek kla net gisteraand by my ma dat haar kleinkinders wilder as die wildtuin is. Maar kan jy jouself indink waardeur arme Noag moes gaan met die hele spektrum van die diereryk saam met hom in ‘n skip .… sonder Netflix! Praat van ingeperk.
Ek dink deel van die ontnugteringsproses waardeur ons gaan in hierdie tyd is dat ons leer ons het baie drome en mooi uitgewerkte plannetjies en agendas gehad wat nou verkrummel het. Ons het aan ons loopbane gebou, ons eie paleise of pandokke, ons stokperdjies en tydverdrywe. En dit het skielik tot ‘n einde gekom.
Dit het my laat dink aan die woorde van Psalm 127:1 wat sê “as die Here nie die huis bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs”. Die spreekwoordelike mure het om ons verkrummel. Dit is ‘n tyd van inkeer na binne. Van self-ondersoek. Dit is ‘n tyd van vra na gehoorsaamheid aan God om van hierdie punt af vorentoe ons te leer hoe om in groter afhanklikheid van Hom te lewe. As jy dan bou in gehoorsaamheid aan die Here, as jy naby die Here lewe dan gebeur daar ’n wonderlike ding met jou.
Toe Noag die diere en die mense in sy skippie laat ingaan soos God vir hom gesê het, staan daar in 7:16: “En toe het die Here die ark agter Noag toegesluit.”
Die Hebreeuse woord vir toesluit is sakar. Sakar beteken letterlik om oor te gee, of in Engels, to surrender. Die Ou Vertaling sê: die Here het agter hom toegesluit. Hierdie toesluit het ’n tweeledige betekenis.
Dit beteken eerstens dat die Here hulle in beskerming geneem het. Met ander woorde, die Here het vir hulle sy seënende bewaring gebied. Ek wil hieruit aflei, maak nie saak hoe krom en skeef Noag se bouwerk was nie, of sy ingeneursvernuf die bootjie gaan laat dryf of nie, die Here se hand sluit hulle toe!
Dit gaan eintlik nie oor die menslike bouwerk nie, maar oor die toesluit van die Here agter hulle! Geen boot sou daardie storm oorleef het as die Here dit nie toegesluit het nie! En vriende dit is die eerste lewensles vanmôre uit die Woord van die Here.
Anders as wat die wêreld glo en dink, gaan vreugde en geluk nie net oor jou eie bouwerk, jou vermoë en vernuf en toewyding nie, maar oor die toesluit, die seënende hand van die Here oor jou lewe! Dit gaan nie in hierdie tyd oor hoe produktief jy is, of hoe goed jy jouself kon inrig om nog voort te werk te midde van ‘n lock-down nie. In hierdie tyd het ons geleer, ons as mense word gekonfronteer met ‘n stuk magteloosheid. Ons kan bou en werk, swoeg en sweet, drome opdroom en plannetjies beraam, maar “as die Here nie die huis bou nie, swoeg die wat daaraan bou tevergeefs” (vgl Psalm 127:1).
Daarom dat die Here selfs verby ons bouwerk kyk, selfs om ons bouwerk te seën. Hy seën nie omdat ons waterdig bou nie, maar omdat Hy ons liefhet en ons soos Noag begenadig!
Die ander betekenis van die woordjie sakar is dié van oorgee. Die Here het hulle toegesluit, maar het jy nou al gedink hoe moes Noag en sy familie gevoel het toe die deure agter hulle toeslaan? Dit was sekerlik ’n oomblik van sakar, van oorgawe. Hier is ons nou. Ons kan nie in of uit nie, ons is totaal en al afhanklik van die Here om te oorleef. En Noag moes dit glo. Hy moes oorgee. Hy moes besef, dit is nou buite my beheer, maar onder God se beheer!
En dan kom gee die Here vir elkeen van sy kinders ’n bouplan om iewers in ons huis of gesin of werkkring en geloofskring …. ’n koninkryksbouer te gaan wees. Mag ons in die bang en stormagtige tye oorgee met die wete, dis nou buite my beheer, maar altyd onder God se beheer! Ek is in lock-down maar God is nie in lock-down nie.
Natalia Strydom NG Kerk Alberton Suid