Dag 32 – Jesus kyk anders
Wanneer mens die evangelies lees sien jy ‘n ongelyke wêreld. Die Jode het byvoorbeeld nie veel van die Samaritane gedink nie, mense met aansteeklike siektes was uit die gemeenskap uitgeskuif, vrouens was ondergeskik aan mans, kinders het nie werklik ‘n stem gehad nie, daar was baie armoede en mense wat nie die wet nagekom het nie, was op neergekyk. Dis maar hoe dit hier by ons ook lyk, is dit nie? Kyk bietjie wie is die mense wat die mag het en wie is die belangrikes. Dit is die rykes, die geleerdes, die invloedrykes en die wat polities reg verbind is. In tweeduisend jaar het baie dinge nie verander nie, het dit?
Jesus, soos wat hy dikwels gedoen het, kom draai dinge egter op hulle koppe. Hy leer Sy dissipels dat die wat eerste is sal laaste wees en die wat laaste is sal eerste wees en dat die belangrikes onder hulle die ander moet dien. Dit het nie sin gemaak vir die mense in Jesus se tyd nie en dit maak vir seker nie sin ons wêreld nie, doen dit? Ons is eintlik baie gefokus op status en stand en ons behandel mense daarvolgens. Ons praat anders met die vrou wat by die Spar werk as wat ons met ons huisdokter of die dominee praat.
Maar Jesus is anders. Wanneer mens na Sy lewe kyk, sien mens duidelik dat Hy sy eie lewe volgens hierdie waardes wat hy vir sy dissipels leer, inrig. In die eerste plek is dit hoe Hy in hierdie wêreld uitkom. Hy word gebore in ‘n stal as ‘n weerlose baba. Wanneer Hy dissipels kies, kies hy nie die bestes nie. Nee, Hy kies nie eers die tweede bestes nie! Hy kies die wat nooit eers andersins ‘n kans sou gestaan om ‘n dissipel te wees nie. Wanneer Hy dan homself met mense meng is dit die uitgeworpenes, die mense wat deur ander vermy word, die armes, die wat nie vreeslik godsdienstig is nie, die magteloses… siekes, vrouens, kinders en sondaars.
Ek wonder hoeveel kyk ons onbewustelik na ander en dink “Dankie tog ek is nie soos hy of sy nie? Dankie tog ek bly nie daar nie of my kinders is nie soos hulle kinders nie”. Miskien doen ons die teenoorgestelde net so gereëld: “Ek wens ek soveel geld gehad soos hy” of “Ek wens ek was so suksesvol soos sy”.
Gelukkig kyk Jesus so anders na ons. Dit gaan nie oor of ons ryk, suksesvol, slim of invloedryk is wat tel nie. Jesus sê dit is ‘n leun as ons onsself óf ander mense se waarde baseer op hierdie goed. Ons waarde is te vinde in die eeue oue waarheid dat ons, elkeen van ons, in die beeld van God geskep is. Hoe ongelooflik is dit nie? Niks kan tog hiermee vergelyk of beter wees as dit nie, kan dit? Jy is ongelooflik belangrik, nie omdat jy oulik, suksesvol, ryk, slim of invloedryk is nie, maar omdat God jou gemaak het. Hoe wonderlik is dit om te weet dat Jesus op díe manier na ons kyk? Dit is wel ook belangrik om te onthou dat Jesus ook na ander mense op die manier kyk, selfs die wat jy nie van hou of mee saamstem nie. Dit dring ons om met Jesus se oë na die mense om ons te kyk.
Hoe wonderlik sal hierdie wêreld nie wees as ons met Jesus se oë na onsself en na ander om ons kan kyk nie!
Ghisnene Müller – Verwoerdpark Gemeente