Skip to main content

Dag 2 – My mense


My mense

Te midde van die chaos van die paar dae voor “lock down” was daar vir my en my vrou ‘n ekstra paar moet dinge op ons doen lysie: Ons moes kontak maak met ons bejaarde ouers – het hulle genoeg kos en die noodsaaklikhede om deur die 21 dae te kom? Gou inloer en net kyk of alles reg is. Ons is bekommerd ons kinders (reeds volwasse en sorg vir hulle self), hulle moet ook ‘n kwota spuit seep en vitamine kry en sommer iets om in die spens te hou. Almal moet voorbereid wees in hierdie tyd.

Optrede wat my laat dink aan die vyfde gebod van ons Here: “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.” Eksodus 20:12. Daarmee saam Psalm 127:3 Seuns (en dogters) is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.

Die vreemde gebeure het by baie mense ‘n nuwe waardering en omgee wakker gemaak vir hul hartsmense. In ‘n wêreld waar ons jaag en skarrel; sukkel om dagboeke te balanseer het ons opnuut iets van die waarde van ons mense ontdek. Positief en so nodig!

Maar is dit genoeg? Kan my omgee en deernis net stop by my mense? Dan lees ek in Matteus 12 van Jesus se aardse moeder en broers wat Hom kom soek, en Hy antwoord in Matteus 12:49 en 50: Toe wys Hy met sy hand na sy dissipels en sê: “Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”

My mense is ook my broers en susters wat deel is van my geloofsgemeenskap. In hierdie tyd moet my uitreik ook na hulle wees – hoe hanteer hulle die afsondering? Het hulle wat hulle nodig het? Is daar iets wat ek vir hulle kan doen? Uitreik is nie net om oor die straat te stap of na hulle te ry nie. Dit is daardie daaglikse kontak – ‘n WhatsApp, ‘n SMS, ‘n oproep. My mense het my nodig, ek moet daar wees vir hulle.

En asof dit nie al ‘n groot genoeg taak is nie, gaan ons Heer nog verder wanneer Hy in Johannes 13:35 sê ons Heiland: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Ek en jy as dissipel, as volgeling van Jesus Christus, moet geken word aan ons liefde. Liefde ook vir hulle wat normaalweg buite my kring sal staan. Daardie kassier wat in hierdie tyd moet werk sodat ek my koskaste kan aanvul, die man wat my brandstof ingooi; die man wat my asblik kom leegmaak – kan hulle iets van God se liefde in jou en my optrede, houding en woorde sien? Ook hulle is my mense. Leef dit sigbaar.

My mense is vir God kosbaar; is vir my kosbaar .My mense is elkeen wat geskep is na God se beeld. Mag elkeen met wie ek in hierdie vreemde tyd mag omgaan beleef dat hy / sy is MY MENS want dan word God se wil gedoen en leef ons gehoorsaam.

Johan Heyns – Alberton Suid