Skip to main content

Dag 15 – Skoonheid


Ps 16
1’n Gedig van Dawid.
Neem my in beskerming, o God;
ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê:
“Ek behoort aan U,
daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.
3Die afgode in die land, so aantreklik vir baie –
met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4Mag elkeen wat ‘n ander god vereer, baie smart beleef.
Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie,
hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.”
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.

Ons word elke dag gekonfroteer met ‘n siekte wat ons lewe kan bedreig. Die nuus is vol berigte oor wat aan die gang is met COVID-19. Meeste aandag wêreldwyd is gefokus op die pandemie wat soveel hartseer, onsekerheid en pyn veroorsaak. Ons word gekonfronteer met ons eie vrese en omdat ons nie veel het om ons aandag af te trek nie is dit moeilik om nie daaraan te dink nie. Ons huidige lewe, maar meer as dit, wat gebeur hierna. Wat gaan van ons land word, wat gaan van my toekoms word. Dit is alles vrae waarmee ons worstel. Onsekerheid.

In Ps 16 word die digter ook gekonfronteer met al die sleg in die lewe. Hy soek skuiling by God. Hy weet dat Hy veilig is by God, maak nie saak wat die omstandighede. Daarom kan hy ook raaksien dat daar steeds mooi in sy lewe is. ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet. Hy sien raak dat dit wat hy in sy lewe het mooi en goed ook is.

Die Here het ons gemaak om voluit te leef. Hy wil nie hê dat ons net in die slegte goed moet vaskyk nie. Dis maklik om vasgevang te raak in al die chaos in die wêreld. Die chaos binne my, en dan vergeet ons soms dat daar wel mooi in die lewe ook is.

Ons weet nie wat gebeur more met ons nie. Ons het geen sekerheid rondom dit nie, maar ons kan die mooi rondom ons raaksien. Dit geniet, dit inneem. Wat is die mooi in jou lewe wat jy nodig het om weer raak te sien? Wat jy nodig het om weer te waardeer? Dalk jou verhouding met God, jou familie, gesin, jou huweliksmaat, dit wat mooi is in en rondom jou huis, ens. Daar is soveel wat ons kan raaksien wat ons so maklik net vanselfsprekend aanvaar want dit wat dalk net nog altyd daar gewees. Daar is meer in die lewe as die seer en hartseer in die lewe. Daarmee maak ons nie of dit nie daar is nie, maar dit help om agter te kom dat dit nie al is wat daar is nie.

Elana Dreyer – Brackendal gemeente